Nuwe drukker kan volkleurfoto op menslike haar druk
2012-08-14 11:45
New York – As jy gedink het die drukker op jou lessenaar is verteenwoordigend van moderne druktegnologie, sal jy weer moet dink.
'n Span navorsers in Singapoer het die grense van dié tegnologie onlangs verskuif toe hulle 'n nanodrukker gebou het wat 'n volkleurfoto op 'n oppervlakte van slegs 50 mikrometer kan skep, berig Mashable. Dit is min of meer die dikte van 'n menslike haar.
Dié drukker, wat deur die Agentskap vir Wetenskap, Tegnologie en Navorsing (Astar) gebou is, kan werk teen 'n resolusie van 100 000 kolletjies per duim. Die meeste tydskrifte, daarenteen, word gedruk teen 300 kolletjies per duim.
Elkeen van die kolletjies bestaan uit vier nanopartikels, wat met silwer en goue nanoskywe bedek word. Wanneer die afstand tussen dié skywe verander word, verander die manier waarop lig gereflekteer word. Só word verskillende kleure geskep sonder om pigment te gebruik.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter.