Nuus meer gewild op internet
2009-11-17 03:46
Washington – Lesers is bereid om klein bedrae geld te betaal vir nuus op die internet, het ‘n nuwe internasionale studie bevind.
Volgens ‘n Boston konsultasiegroep sal Amerikaners sowat R10.30 ‘n maand vir nuus op die net betaal, terwyl die Italianers nie sal skroom om R14.30 te betaal nie.
Sowat 5 083 mense se menings is tydens ‘n aanlynstudie ingesamel en inwoners van Duitsland, Australië, Frankryk, Brittanje, Spanje, Noorweë en Finland het hieraan deelgeneem.
Na bewering sal 48% van internetgebruikers geld uithaal om hulle nuus aanlyn te lees, insluitende op hulle selfone. In die weste van Europa sal sowat 60% gebruikers betaal vir hulle aanlyn-nuus.
“Hierdie is goeie nuus. Mense is bereid om te betaal om ingelig te bly,” het John Rose van die konsultasiegroep gesê.
“Die slegte nuus is dat hulle nie bereid is om baie geld uit te haal nie,” het hy bygevoeg.
Die drukmedia is benoud oor hulle toekoms sedert aanlyn-koerante stadig maar seker begin oorneem het. Groot koerante soos The New York Times, Washington Post en Los Angeles Times moes onlangs honderde joernaliste die deur wys.
–Sapa