Nou't vuvuzela sy eie blom
2010-07-12 10:29
Kaapstad - 'n Blom wat pas ontdek is, is die naam 'vuvuzela' gegee ter eer van die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Suid-Afrika.
Die plantjie se uitgespreide, geel kroonblare herinner aan die lawaaierige blaasinstrument, het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Biodiversiteit Sondag op hul webwerf gesê.
'n Afgetrede personeellid het die naam voorgestel, "en die res is geskiedenis," het uitvoerende hoof Tanya Abrahamse gesê.
Die "Moraea vuvuzela," 'n lid van die iris-familie, is naby Kaapstad ontdek, en word reeds deur landbou en ontwikkeling bedreig.
- SAPA