Noord-Korea werf 'troepe' vir kuberweermag
2011-06-01 16:55
Seoel – Die geheimsinnige Noord-Korea deursoek die land se universiteite vir rekenaarfoendi’s om oorsee te studeer en deel te raak van hul kuberweermag.
Suid-Korea het sy buurland beskuldig van verskeie kuberaanvalle vanjaar, insluitend ‘n “kuber-terreuraanval” wat in April die netwerk van een van die land se grootste banke tot stilstand gebring het.
Die twee Koreas is tegnies steeds in ‘n oorlog teen mekaar betrokke - slegs ‘n wapenstilstand is geteken om die 1950-1953 Koreaanse Oorlog te beëidig.
Kim Heung-kwang het in 2003 uit Noord-Korea ontsnap en is die leier van ‘n groep oorlopers genaamd North Korea Intellectuals Solidarity. Hy het gesê dié land soek die jong slimkoppe om hulle as kuberkrakers op te lei.
“Die kuberweermag het sedert 2010 van 500 na 3 000 troepe gegroei,” het hy gesê.
“Hierdie wonderstudente kry die beste geleenthede. As hulle goed presteer, kry hul ouers in die landelike gebiede kans om na Pyongyang te verhuis,” het Kim, wat as ‘n professor by kolleges in Noord-Korea gewerk het, gesê.
“Die studente kry ook die kans om oorsee te studeer,” het hy bygelas.
‘n Suid-Koreaanse verdedigingsdokument het vroeër vanjaar gewaarsku die gevaar van ‘n kuberaanvaal uit Noord-Korea neem toe.
Verlede maand het Suid-Korea hul bure beskuldig na ‘n kuberaanval op die Nonghyup-bank wat klante se gebruik van OTMs en kredietkaarte belemmer het.
Noord-Korea het dit as ‘n ongegronde beskuldiging afgemaak.
Aanklaers in Suid-Korea het ook gesê die Noord-Koreaanse kuberkrakers het ook ander aanvalle op regerings- en kommersiële webblaaie gemik.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters