Nooddienste wis niks van aardbewing
2011-01-26 09:29
Die Burger
Port Elizabeth - ’n Aardbewing suid van Suid-Afrika het Dinsdag ’n duidelike leemte ten opsigte van die land se waarskuwingstelsel oor moontlike tsoenami’s uitgewys.
’n Aardbewing wat 5 op die Richterskaal gemeet het, het omstreeks 07:39 die aarde sowat 10 km onder seevlak 2 130 km suid van Port Elizabeth geskud.
Nie die Baai of omgewing of kusdorpe aan die Suid-Kaapse kus is ure ná die aardbewing ingelig nie.
Dit het kenners laat maan die kommunikasiekanale moet oper gemaak word en die waarskuwingstelsel moet beter funksioneer, selfs met kleinerige skuddings.
Selfs Port Elizabeth, wat in ’n direkte lyn van enige moontlike tsoenami was, het teen 11:00 geen waarskuwing van enige aard ontvang nie.
Ook Suid-Kaapse dorpe soos Plettenbergbaai en Knysna het van niks geweet nie.
“ ’n Vriend het my gebel om te sê hy hoor dis op die nuus. Dit was die eerste wat ek daarvan gehoor het,” het Henry Lansdowne, waarnemende direkteur van rampbestuur, gesê.
Hy het dadelik die Raad vir Geowetenskap, wat alle aardbewings monitor en die nodige instellings laat weet, gebel om ’n afspraak met dr. Fleur Strasser, direkteur, te maak.
“Ons en die plaaslike weerkantoor werk saam om die inwoners betyds te ontruim of teen kitsvloede te waarsku. Ons wil dieselfde ten opsigte van moontlike tsoenami’s of ongewoon hoë seedeinings kan doen,” het Lansdowne gesê.
Gerhard Ras, hoof van Eden se rampbestuur, het aan Jackie Kruger gesê hulle dra kennis van die voorval. Hulle is egter nie daaroor ingelig nie en kusdorpe was daarom nie op ’n hoë gereedheidsvlak nie.
’n Aardbewing op die oseaanbodem kan die seevlak onmiddellik laat styg, waarna vernietigende branders teen 900 km/h na die kuslyn aangejaag word.
Was dit die geval met Dinsdagoggend se aardbewing, sou Port Elizabeth teen omstreeks 09:40 deur dié branders geteister kon word, het Callum Anderson, lektor in geowetenskap aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, gesê.
Dié soort skuddings noodsaak volgens Anderson wél ’n deeglike moniterings- en waarskuwingstelsel. “Selfs al kan dit een keer in ’n honderd jaar voorkom.
“Die aardbewing het 5 op die Richterskaal gemeet, byna die helfte swakker as 2004 se aardbewing in die Indiese Oseaan (9,1 op die Richterskaal) wat die rampspoedige tsoenami’s tot gevolg gehad het.”
Sake kan lol as die aardplate van die Agulhas-rif – gemiddeld tussen 100 km en 200 km van die Suid-Afrikaanse kus – begin beweeg, het Anderson gesê. “Nie alleen is dit baie nader aan die kus nie, maar ook in baie vlakker water, wat dan uiteraard verwoestende golwe na die vasteland kan stuur.”
- Die aardbewing wat op 26 Desember 2004 in die Indiese Oseaan voorgekom en tot die dodelike tsoenami in Indonesië gelei het, het wel skade in Suid-Afrika op plekke soos Oos-Londen, Port Elizabeth en Richardsbaai aangerig.