Nóg ’n mylpaal behaal met KAT-7
2011-08-25 07:00
Kaapstad – Nóg ’n mylpaal is deur KAT-7, die voorloper tot die MeerKAT-radioteleskoop, behaal nadat al die teleskope voltooi en met verkoelde radio-ontvangers toegerus is.
Al die KAT-7-teleskope het ook saam die eerste skerp beeld geneem nadat die nuwe toerusting aangebring is.
Dié aankondiging is Woensdag deur die Square Kilometre Array (SKA)-projek in Afrika gedoen.
KAT-7 is die prototipe-teleskoop vir MeerKAT wat in die Karoo in die Noord-Kaap gebou word. Dit is alles deel van Suid-Afrika se plan om die SKA hier te huisves.
Die eerste beeld (van Centaurus A) is geneem deur verkoelde ontvangers op al sewe skottel-antennas aan te bring. Centaurus A se sterk radiostraling word veroorsaak deur ’n groot gravitasiekolk in die middel van dié sterrestelsel.
Dié beeld is baie meer sensitief as die voorlopige beeld wat in 2010 sonder enige verkoelde toerusting deur die eerste vier skottel-antennas geneem is. Die radio-ontvangers en al die komponente wat dit bevat, word verkoel tot sowat -203 °C sodat die “geraas” verminder kan word. Hierdie “geraas” is eie aan radio- en TV-ontvangers.
Die verkoeling stel die teleskoop in staat om baie dowwer voorwerpe te sien as wanneer die ontvangers en voere teen kamertemperatuur beheer word. Die verkoeling maak die ontvangers met ’n faktor van 2,5 meer sensitief en verminder dus die observasietyd.
Navorsers kan nou vroeg al wetenskaplike toetse en oefeninge begin doen ter voorbereiding op die ontwerp van MeerKAT en SKA.
KAT-7 toets die tegnologie wat vir MeerKAT gebruik sal word, wat in sy vroeë konstruksiefase is.
Willie Esterhuyse, projekbestuurder van MeerKAT, het gesê die jongste fase is weer eens volgens skedule afgehandel. Die tegniese personeel op die terrein, Siyabulela Tshongweni, Sibusiso Wakhaba, Andre Walker en Matthys Maree, het hard saam met die res van die span en die maatskappye EMSS en Tellumat gewerk om dié mylpaal te bereik.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger