Navorsers kry blitsige netwerk
2011-11-21 08:04
Kaapstad – Suid-Afrikaanse navorsers beskik uiteindelik, soos die akademici van die res van die wêreld, oor ’n supervinnige rekenaarnetwerk.
Die eerste fase van die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingsnetwerk (SANReN) is vandeesweek voltooi onder leiding van die Meraka-instituut aan die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad en die departement van wetenskap en tegnologie.
Laurens Cloete, hoof van die Meraka-instituut, het gesê die netwerk is ’n groot breëband-netwerk wat universiteite en navorsingsinstellings met optiese veselkabels met mekaar en die internet verbind. “Dit is sowat 10000 keer vinniger as ’n gewone ADSL-lyn.”
Die eerste fase van die projek het sowat R429 miljoen gekos. Die tweede fase sal Polokwane, Grahamstad, Makhado en Mafikeng insluit en sal aanstaande jaar voltooi word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger