Navorser se naam verewig
2010-07-30 07:20
Die Burger
Kaapstad - ’n Kaapstadse navorser wat die sonderlinge goue-mol bestudeer, se naam is verewig nadat ’n fossielspesie wat aan die Weskus gevind is na hom genoem is.
Dr. Gary Bronner, dierkundige aan die Universiteit van Kaapstad, het gesê hy is “nogal verbysterd” nadat dié eer hom te beurt geval het.
Die molfossiel Chrysochloris bronneri is onlangs in die Weskus-fossielpark by Langebaanweg deur prof. Rob Asher van Cambridge-universiteit ontdek. Die fossiel is naby verwant aan die lewende Kaapse goue-mol (Chrysochloris asiatica) wat in kusgebiede van die Suidwes-Kaap, Kaapse Skiereiland en Noord-Kaap voorkom.
Bronner het gesê hoewel dit nie uniek is dat fossielspesies na mense genoem word nie, is dit goed om te weet ’n mense se navorsing word erken. “Maar wanneer ’n fossiel van vyf miljoen jaar oud na jou genoem word wanneer jy in jou veertigs is, laat dit jou self nogal na ’n fossiel voel,” het hy gesê.
Hy en Asher is deel van ’n internasionale span wetenskaplikes saam met prof. Nigel Bennett, prof. Paulette Bloomer en dr. Sarita Maree van die Universiteit van Pretoria wat besig is om ’n evolusionêre stamboom van Chrysochloridae te bou. Dít is die familie waaraan goue-molle behoort, maar waarvan min nog bekend is.
Daar is 21 spesies van die goue-mol, waarvan 10 deur uitwissing bedreig word weens mynbedrywighede, swak landboupraktyke en verstedeliking.
Hulle word goue-molle genoem nie omdat die pels self goudkleurig is nie, maar danksy die skitterende skynsel op die pels, wat wissel van silwer en brons tot goud en pers, byna soos ’n reënboog.
- Die Burger