Natuurrampe kos SA R1 mjd. per jaar
2011-04-02 08:05
Johannesburg - Natuurrampe, waaronder droogtes, vloede en brande, het die Suid-Afrikaanse belastingbetaler sedert 2000 R1 miljard per jaar gekos, het Edna Molewa, minister van omgewingsake, Vrydag gesê.
Multidissiplinêre navorsing wat in dié tyd onder leiding van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) gedoen is, het gewys Suid-Afrika se temperatuur het die afgelope 60 jaar weens verhoogde koolstofdioksiedvlakke in die atmosfeer drasties gestyg. Dít het verreikende gevolge vir die land se inwoners.
“Ons is nie veerkragtig genoeg om by klimaatsverandering aan te pas nie,” het dr. Tanya Abrahamse, hoof van Sanbi, by ’n klimaatberaad in Midrand gesê.
Die departement van omgewingsake het die beraad gehou ter voorbereiding vir die 17de klimaatberaad van die Verenigde Nasies (COP17) wat einde vanjaar in Durban plaasvind.
Abrahamse het gesê Suid-Afrika is besonder kwesbaar vir klimaatsverandering en dat die afgelope tyd se storms en vloede simptomaties van dié verskynsel is.
Molewa het gesê die vloede en ook droogtes wat die land deesdae ervaar, bedreig mense se lewens, ontwrig boerderybedrywighede, beskadig infrastruktuur en eis menselewens.
“Hierdie soort natuurrampe kos die land bykans R1 miljard per jaar.”
Sy het voorspel sulke verskynsels gaan weens die veranderende klimaat vererger.
Volgens Abrahamse is Suid-Afrika se mense uitgelewer aan malaria en cholera, kommersiële bosbouplantasies aan ernstige brande en die land se grasvelde en die Kaapse fynbos aan droogtes en verskroeiende hitte.
Sy het uitgewys dat alle rolspelers in die klimaatsektor waarsku ’n styging van 2 °C in die temperatuur kan vernietigende gevolge vir lewe op aarde inhou.
Navorsers vanuit verskeie dissiplines in Suid-Afrika, waaronder die landbousektor, waterspesialiste, ekoloë, ekonome en biodiversiteitspesialiste, wat aan Sanbi se navorsing deelgeneem het, voorspel ’n styging van tussen 1 °C en 2 °C aan die Suid-Afrikaanse kus in die volgende 40 jaar. Vir die binneland is dié styging meer drasties – tussen 3 °C en 4 °C, het sy gesê.
Een van haar grootste bekommernisse is die feit dat selfs die departement van waterwese se eie voorspellings daarop dui dat Suid-Afrika in 2025 ’n ernstige tekort aan water gaan hê.
Molewa het gesê Suid-Afrika het ’n opdraande stryd en staan voor ’n geweldige uitdaging om ’n leierskaprol te speel wanneer duisende afgevaardigdes van 189 lande in Desember in Durban saamtrek om ’n klimaatraamwerk saam te stel wat regverdig teenoor alle partye sal wees.