Nasa weet nie waar satelliet neergestort het
2011-09-26 07:00
Cape Canaveral (Florida). – ’n Wetenskaplike satelliet van Nasa wat ses ton weeg het Saterdag neergestort, maar dit bly ’n raaisel waar dié yslike stuk ruimterommel geval het.
Die Amerikaanse Ruimteagentskap het gesê hy dink die satelliet het in die Stille Oseaan beland, maar die presiese tyd van die busgrootte- satelliet se neerstorting en waar dit geval het, is onbekend.
’n Selfvernietigende storting deur die atmosfeer Saterdagnag het die Navorsingsatelliet van die Bo-atmosfeer (UARS) se omwentelings van 20 jaar beëindig, het Nasa gesê.
Die satelliet sou in sy vlammende terugkeer aan flarde geruk word, maar sowat 26 stukke – waarvan die grootste na raming 150kg geweeg het – het waarskynlik die val oorleef, het amptenare gesê.
Die grootste deel van UARS se vlug was oor water, met ’n gedeelte oor Noord-Kanada en Wes-Afrika, het Nicholas Johnson, hoofwetenskaplike van wentelrommel by Nasa se Johnson-ruimtestasie in Houston, gesê. “Omdat ons nie weet presies waar die satelliet die atmosfeer binnegekom het nie, weet ons nie waar die rommelveld is nie.”
Die satelliet was 10,7 m lank en 4,6 m breed. Dit was onder die grootste ruimtetuie wat nog onbeheers deur die atmosfeer neergestort het. Nasa beplan intussen om die terugkeer van groot ruimtetuie te beheer, wat nie moontlik was toe die UARS ontwerp is nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger