Na drie dekades op Facebook gevind
2009-12-29 13:00
Jakarta – Vir meer as drie dekades lank het ‘n Indonesiese vrou na haar broer gesoek en danksy Facebook is hulle weer herenig.
Nurlianti Dehi het haar broer, Anton, in 1974 laas gesien kort voor hy na die noorde van Sulawesi verhuis het en alle kontak met sy familie verbreek het.
“Ons was vir sowat 35 jaar van mekaar geskei en nou het ek hom weer op Facebook gevind,” het Nurlianti gesê.
Anton se dogter het Nurlianti glo op Facebook gevind en haar gekontak.
“Ek het later met my broer oor die foon gepraat en was eers nie seker of dit werklik hy is nie. Maar ons het stories uit ons kinderdae begin deel en toe weet ek dit is hy,” het Nurlianti gesê.
–Sapa, dpa