NS: Rustende vulkaan bars ná meer as 'n eeu uit
2012-08-07 09:45
Mount Tongariro, Nieu-Seeland – ‘n Vulkaan in dié land het onverwags uitgebars nadat dit meer as 'n eeu lank rustend was, het beamptes Dinsdag gesê.
'n Aswolk wat deur die uitbarsting veroorsaak is, het vlugte ontwrig en verskeie hoofweë is vir verkeer gesluit.
Die Berg Tongariro-vulkaan, wat in die middel van die Noord-Eiland geleë is, het kort voor middernag (Maandag 12:00 GMT) uitgebars en dit was die eerste aktiwiteit sedert 1897, het die amptelike moniteringsliggaam, GNS Science, gesê.
Volgens die polisie het getuies vertel van “ontploffings van vlamme en ‘n aswolk wat uit ‘n nuwe gat aan die kant van die berg gekom het”.
“Klippe is uit die vulkaan geskiet en dit was soos donderweer en weerlig en vuurwerke. Dit was skouspelagtig.” Het ‘n plaaslike inwoner, David Bennett, aan Fairfax Media gesê.
Die polisie sê daar was geen beserings nie en geen skade is aangerig nie, alhoewel hulle nog hutte in die omgewing sou deursoek wat deur stappers vir skuiling gebruik word.
Volgens die kantoor van burgerlike beskerming het geen lawa uit die vulkaan gekom nie, maar ‘n aswolk het 6 100 m in die atmosfeer inbeweeg, wat gelei het tot tientalle plaaslike vlugte wat gekanselleer is.
– Volg Nuus24 op Twitter