Musikante het minder gehoorprobleme
2011-09-14 14:28
New York – Musikante wat jare lank snare tokkel sukkel minder op hul oudag met gehoorprobleme as mense wat minder musikaal is, het ‘n studie bevind.
Om vanaf 16-jarige ouderdom ‘n musiekinstrument te bespeel help glo om ‘n gehoorprobleem, wat navorsers die "skemerkelkiepartytjie-probleem" noem, te vermy.
Die gemiddelde 70-jarige musikant kan ‘n gesprek in ‘n raserige omgewing net so goed soos die gemiddelde 50-jarige volg, het die studie van die Baycrest's Rotman-navorsingsinstituut bevind.
Volgens die navorsers gebruik musikante die brein se gehoorstelsel veel meer as ander en dit help glo om gehoorprobleme gekoppel aan ouderdom te vermy.
“Ons het bevind om ‘n musiekinstrument te bespeel kan tot beter gehoor op die oudag bydra,” het die hoofnavorser Benjamin Rich Zendel gesê.
Sy navorsing is in die joernaal Psychology and Aging gepubliseer.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.