Hier kom DSTV - vir selfone
2010-11-24 09:05
Kaapstad - Multichoice Suid-Afrika het sy langverwagte diens vir selfone en ander mobiele toestelle, DSTV Mobile, bekendgestel.
DSTV Mobile is 'n mobiele uitsaaidiens wat gebruikers sal toelaat om televisie te kyk op DVB-H-selfone (Digitale Video-uitsending-handstuk).
DVB-H-selfone op die Suid-Afrikaanse mark sluit tans die Nokia 5330, Nokia N96 en die ZTE F900 in.
Diegene wat nie toegang het tot 'n DVB-H-selfoon nie kan egter ook van die diens gebruik maak, danksy 'n mobiele dekodeerder met die naam Drifta, wat gebruikers sal toelaat om DSTV Mobile op die iPhone, iPad, iPod Touch en rekenaars te kyk.
Die DSTV Mobile-pakket sal aanvanklik 'n verskeidenheid SuperSport-kanale insluit (1, 2, 3 en Blitz), sowel as Africa Magic, Cartoon Network, Trace en die DSTV Events-kanaal.
DSTV Mobile sal R39 per maand kos, en die Drifta-dekodeerder sal vir R599 beskikbaar wees.
“Ons is opgewonde om televisie na selfone te bring vir die Suid-Afrikaanse mark ná 'n suksesvolle proeftydperk van 'n paar jaar," het Imtiaz Patel, MultiChoice Suid-Afrika se hoof- uitvoerende beampte, gesê.
"Die DVB-H-tegnologie moet egter nie verwar word met DStv se mobiele datastroomdiens wat vroeër bekendgestel is, wat van die selfoonmaatskappye se 3G-tegnologie gebruik maak nie," het Mark Rayner, algemene bestuurder van DStv Mobile Suid-Afrika, gesê.
"Dié onafhanklike Mobile TV-uitsaainetwerk gee gebruikers onbeperkte toegang tot die kanale wat op die diens beskikbaar is sonder die heffing van datakoste.”
- Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24