Muise snuffel nou vir dwelms, plofstof
2012-11-14 14:43
Jerusalem – ‘n Maatskappy in Israel mik om die manier waarop plofstof, dwelms en selfs geld by lughawens opgespoor word, vir altyd te verander – en dít alles met die hulp van muise.
Dié inisiatief sal die eerste wees wat muise as snuffeldiere by 'n lughawe gebruik.
Met dié stelsel, wat deur die maatskappy BioExplorers ontwerp is, sal ‘n reisiger by 'n lughawe in ‘n klein hokkie staan. Lug sal oor die persoon vloei, waarna dit in ‘n kleiner kompartement opgesuig sal word. Agt muise in die kompartement sal dan hul snuffelwerk doen.
As die reisiger nie met verbode middels in kontak was nie, sal ‘n groen lig flikker.
As die lug wat in die kompartement opgesuig is egter verdag ruik, sal die muise, wat spesiaal vir die taak opgelei word, ‘n alarm laat afgaan.
“Die idee het in die jaar 2000 en 2001 begin toe daar so baie selfmoordbomaanvalle op busse in Israel was,” het Eran Lumbroso, stigter van BioExplorers, gesê.
“Ek was in die weermag toe die idee by my opkom dat 'n mens liewer kleiner diere, pleks van honde, moet gebruik om plofstof op te spoor.”
“Muise kan opgelei word om dwelms, geld en selfs die oorblyfsels van plaagdoders uit te snuffel.”
“Hulle reuksintuig is baie beter ontwikkel as die van honde.”
“Die muise kan ook maklik opgelei word en danksy hul grootte kan 'n mens meer as een op ‘n slag gebruik.”
Die maatskappy het bevestig dat ‘n prototipe van die hokkie volgende jaar by lughawens getoets sal word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP