Motors hoofsaaklik 'vir mans ontwerp'
2011-10-21 11:10
New York – Vroue is meer geneig om in motorongelukke beserings op te doen omdat veiligheidstoestelle hoofsaaklik vir mans se liggame ontwerp word, het ‘n studie bevind.
Die navorsers het bevind vroue wat sitplekgordels dra is 47% meer geneig om ernstige beserings op te doen as mans in vergelykbare ongelukke.
Vorige navorsing het gefokus op die manier waarop mans en vroue bestuur, maar navorsers skryf in die American Journal of Public Health die ontwerp van motors is dalk ‘n beter plek om die oorsaak te soek.
Die posisie van kopstukke neem nie die grootte en sterkte van vroue se nekke in ag nie, meen die navorsers.
Vroue is ook meer geneig om beserings aan hul onderlywe op te doen weens hul korter liggaamsbou, het Dipan Bose en Jeff Crandall van die Univesiteit van Virginië in Amerika en Segui-Gomez van die Navarra-universiteit in Spanje bevind.
“Gesondheidsbeleid en motorregulasies moet fokus op die ontwerp van motors wat beide mans en vroue se veiligheid in ag neem,” het die navorsers gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP