Moskou: Digte rookmis soos 40 sigarette
2010-07-29 12:30
Moskou - Die ergste rookmis nog het Moskou getref en volgens ‘n longdokter asem inwoners ongeveer 40 sigarette elke paar uur in.
Die stad van meer as 10 miljoen mense gaan tans gebuk onder ‘n hittegolf met temperature wat elke dag die hoogte inskiet.
“Die huidige vlak van koolstofmonoksied beskadig 20% van die rooibloedselle in die menslike liggaam. Dit is dieselfde as die gevolge van twee pakkies sigarette wat binne drie tot vier uur gerook word,” het Alexander Chuchalin, die land se hoof-longspesialis, gesê.
Hy het inwoners aangeraai om maskers te dra en om soveel as moontlik in die huis te bly.
Maandag het die kwik by 37.4°C gedraai, die hoogste in 130 jaar.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters