Moderne mens het met voorgangers gene uitgeruil
2011-09-06 14:49
Tucson – Die voorvaders van die mens het voor hul groot trek uit Afrika met ander voorgangers van die mens gene uitgeruil, het navorsers bevind.
Alhoewel ons, as moderne mens, die enigste oorlewende mensspesie is, het ander, soos die Neanderthals en die Denisovans, eens die aarde bewoon en Afrika voor ons verlaat.
Navorsers het nou egter bevind die ander voorgangers van die moderne mens het met ons spesie aangeteel en gene aan ons spesie oorgedra wat ons versterk het en tydens die groot trek uit Afrika sowat 65 000 jaar gelede beskerm het.
Die navorsers het bevind sowat 2% van hedendaagse DNS in Afrika is van ons voorvaders en ‘n onbekende voorganger van die mens geërf.
“Ons moet die idee dat die mens op sy eie ontwikkel het, hersien,” het die navorser Michael Hammer van die Universiteit van Arizona in Tucson gesê.
“Ons moet die idee van ‘n Tuin van Eden en die verouderde idee dat die mens sonder kruisteling buite Afrika ontwikkel het, opsysit,” het hy gesê.
Hammer en sy kollegas se navorsing is in die joernaal Proceedings of the National Academy of Sciences gepubliseer.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.