Miljoene Apple-gebruikers se inligting gesteel
2012-09-04 19:00
Washington – 'n Kubermisdaadgroep beweer hy het persoonlike inligting van 12 miljoen Apple-, iPhone en iPad-gebruikers van 'n FBI-rekenaar gesteel.
Die groep genaamd AntiSec het een miljoen Apple-gebruikeridentifiseerders gepubliseer, wat hy beweer deel is van 'n groter groep van 12 miljoen.
Jenny Shearer, woordvoerder van die FBI, het gesê die speurdiens gaan nie kommentaar lewer nie.
Die nuus het egter gou op sosiale netwerke versprei. Die tegnologie-blog Geekosystem het dit "een van die ergste privaatheidsrampe ooit" genoem en verskeie Twitter-gebruikers sê die nuus dui daarop dat die FBI besig is om Apple-gebruikers op te spoor.
Een webwerf het 'n databasis opgestel om gebruikers te help om vas te stel of hul toestelle op die lys van die kubermisdaadgroep is.
"Dit is nie duidelik hoekom die FBI die gebruikeridentifiseerders en persoonlike inligting van miljoene iPhone en iPad-gebruikers ingesamel het nie, maar dit is duidelik dat die inligting en die rekenaar waarop dit gestoor is, nie veilig genoeg was nie," het Graham Cluley van die Britse sekuriteitsmaatskappy Sophos gesê.
"My vermoede is dat die kuberkrakers meer geïnteresseerd was om die FBI se span te verneder as om onskuldige gebruikers te bedreig. Om inligting van 'n rekenaar te steel is 'n misdaad en ek sou verwag dat die FBI en ander wetstoepassingsagentskappe die skuldiges soek."
Verskeie ander mense het hul kommer oor die voorval uitgespreek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP