Militêre beamptes speel kupido
2010-06-28 14:25
Beijing, China - China se militêre beamptes het die verpligtinge van kupido by hul pligte ingesluit ná die regering troepe verbied het om webtuistes vir aanlynafsprake te gebruik oor vrese dat hulle dalk sensitiewe inligting kan uitlap, berig die staatsmedia.
Kommandeurs van die 2,3 miljoen sterk People’s Liberation Army (PLA) probeer nou vasstel hoe om liefde te vind vir enkellopende dienslede.
Dienslede mag nie blog, aanlyn werk soek of selfs vriende maak in die virtuele wêreld onder die nuwe regulasies, wat op 15 Junie van krag geword het, nie.
"Mense met duistere motiewe mag die soldate se persoonlike inligting gebruik en 'n bedreiging wees vir die veiligheid van die weermag," het Yang Jigui, 'n offissier in Tibet, gesê.
Die China Daily berig dat 'n internetsoektog persoonlike webtuistes met inligting oor enkellopende soldate en berigte met sensitiewe militêre inligting bevat.
Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters