Middel soos dagga is nog wettig in SA
2011-09-02 08:41
Johannesburg – Die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad (MBR) het Donderdag bevestig dat bestaande wetgewing nie ’n kruiemiddel met ’n sintetiese kannabinoïed verbied wat as “wettige dwelm” in Suid-Afrika verkoop word nie.
Mandisa Hela, registrateur van die MBR, het gesê komitees van kenners ondersoek die kwessie nou.
Dit volg op ’n brief wat die Pretoriase toksikoloog dr. Tim Laurens aan die MBR geskryf het oor sy kommer oor produkte waarin hy JWH-073 gekry het.
Dit is ’n middel wat heeltemal anders lyk as die aktiewe bestanddeel van dagga, maar net so funksioneer deurdat die liggaam se kannabinoïed-reseptore daarvoor ontvanklik is.
Kenners vermoed dit kan mense net so of selfs meer as dagga bedwelm.
Laurens het aan die MBR geskryf nadat Beeld ’n pakkie Magic Dragon van Legal-highs.co. za by die toksikologielaboratorium van die Universiteit van Pretoria se chemiedepartement laat toets het.
Laurens en sy kollegas het vroeër ook JWH-073 in ’n pakkie Dust van Legal-highs gekry.
Ross Whitehead van Legal-highs het aan Beeld gesê die verspreider se hoofkantoor is in Nieu-Seeland en wou nie dadelik kommentaar lewer nie.
Verkope van dié en ander sintetiese kannabinoïede is op 16 Augustus in Nieu-Seeland verbied deurdat die middels tydelik geskeduleer is.
Oorsese owerhede het in 2008 begin ingryp toe hulle die middel in sogenaamde “wettige dwelms” gekry het. Ondergrondse aptekers verander glo gedurig die sintetiese molekule om forensiese toetse te ontwyk.
Legal-highs beweer sy produkte is veilig, maar waarsku verbruikers om die wette in hul land na te gaan voordat hulle koop. Hul produkte is byvoorbeeld ook in Kanada onwettig.
Luidens die bemarkingsmateriaal behoort gebruikers nie roetine-uriensiftingstoetse te dop as hulle Legal-highs se produkte gebruik nie.
“Ons kan egter nie verantwoordelik gehou word vir die uitslag van die soort toetse wat die aantasting van mense se verstandelike vermoëns meet nie,” staan op die webwerf.
Legal-highs waarsku mense ook om nie voertuie te bestuur, met masjinerie te werk “of enigiets anders te doen wat hulle in gevaar sal stel nie”.
Hulle waarsku mense wat voorskrifmedisyne gebruik, swanger vroue en diegene met hoë bloeddruk, hart- of skildklierprobleme, diabetes en prostaatprobleme ook om weg te bly van hul produkte.
Legal-highs aanvaar geen aanspreeklikheid vir die manier waarop hul produkte gebruik word nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld