Microsoft lig sluier oor planne vir 2012
2012-02-20 14:10
Melanie Botha, bedryfs- en bemarkingshoof van Microsoft Suid-Afrika het die sluier gelig oor wat beloof om 'n opwindende jaar te wees vir dié alombekende tegnologiemaatskappy, berig mybroadband.co.za.
Die fokus sal in 2012 veral val op die ontwikkeling van programmatuur wat nie op toestelle self geberg word nie, maar wat funksioneer "in die wolk" – 'n verwysing na programme wat op bedieners geberg word en via 'n internetverbinding gebruik word.
"Amper elkeen van ons produkte het... funksionaliteit en/of dienste wat die wolk ondersteun,” het Botha gesê.
“Nog 'n fokusarea sal wees toestelle, toestelle, toestelle; dit gaan 'n baie interessante jaar wees vir toestel-innovering en ek dink ons gaan baie interessante vorms sien,” het Botha voorspel.
Die klem sal in 2012 ook sterk gelê word op Windows Phone, Microsoft se nuwe bedryfstelsel vir slimfone.
“Windows Phone sal die slimfoon-landskap verander met die aankondiging van ons vennootskap met Nokia en die bekendstelling van die Lumia-toestel,” het Botha gesê.
“Ons is onwrikbaar optimisties oor die toekoms van tegnologie en ons spandeer 'n groot hoeveelheid tyd en hulpbronne om toekomstige tegnologie vandág beskikbaar te stel.”
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter.