Meeste ouers spioeneer op kinders op Facebook
2011-07-19 19:27
New York – In ‘n onlangse studie het navorsers bevind 55% van ouers gebruik Facebook om hulle met hul kinders se persoonlike sake te bemoei.
Van die 2 000 ouers het ‘n verdere 5% gesê hulle sal die sosiale netwerk gebruik as hulle geleer word hoe.
Die tydskrif Laptop het die studie se bevindinge gepubliseer.
Die meeste van die nuuskierige ouers het gesê hulle het meestal na hul kinders se jongste “status updates” gekyk om rond te snuffel.
Ander ouers het gesê hulle het ook brokkies op hul kinders se profiele gelees of na foto’s waarop die jonges verskyn, gekyk.
Sommige agterdogtige ouers het selfs al op ‘n vriend se Facebook-profiel aangeteken om ‘n oog oor hul kinders se aktiwiteite aanlyn te gooi.
Sowat 11% van ouers het gesê om hul met hul kinders se persoonlike lewe te bemoei, is die enigste rede waarom hulle Facebook besoek.
Kinders is egter nie veel gepla deur hul ouers op Facebook nie.
Van die ouers wat hul kinders ‘n “friend request” gestuur het, is slegs 4% afgekeur.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.