Meeste internetgebruikers in SA is swart
2012-11-28 13:04
Johannesburg – Die meerderheid van Suid-Afrika se internet-gebruikers is jonk, swart en verkry toegang tot die internet via hul selfone, het die SA Network Society Project gesê.
‘n Verslag wat Dinsdag uitgereik is toon dat een derde van volwassenes die internet gebruik en dat twee derdes van hierdie gebruikers ‘n Afrika-taal by die huis praat.
Indra de Lanerolle, die hoofnavorser, het in ‘n verklaring gesê die studie wys dat ‘n nuwe golf internet-gebruikers die afgelope paar jaar na vore getree het.
“Hulle teenwoordigheid is iets waarvan ondernemings, die regering, politieke partye en die burgerlike samelewing kennis moet neem.”
In 2008 het net 15% van Suid-Afrikaners die internet gebruik, terwyl 34% van Suid-Afrikaners nou toegang tot die internet het. Teen dié tempo sal meer as die helfte van die land teen 2014 internettoegang hê.
Altesaam 52% van gebruikers wat die eerste keer toegang tot die internet verkry, doen dit deur middel van 'n selfoon, terwyl vier uit 10 internetgebruikers 'n inkomste van minder as R1 500 per maand het.
Een van die grootste struikelblokke om die internet te gebruik is 'n lae vlak van Engelse geletterdheid.
Sowat een vyfde van Suid-Afrikaanse volwassenes kan volgens die studie nie Engels lees of skryf nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA