MeerKAT-teleskope uit Kaapstad beheer
2011-02-04 07:08
Kaapstad - Die teleskope van Kat-7/MeerKAT buite Carnarvon in die Noord-Kaap word nou uit kantore in Pinelands in die Moederstad beheer.
Dit is ook hoe dit in die toekoms sal werk indien Suid-Afrika die Square Kilometre Array (SKA) hier kan huisves. Die duisende teleskope op die Karoovlakte sal dan almal met die druk van ’n knoppie in Kaapstad hul skottel-antennas kantel.
Die Kat-7 is die padvindersprojek van die radioteleskoop van die Karoo Array Telescope (MeerKAT). Kat-7 is al maande operasioneel en daar word reeds aan MeerKAT, wat uit 64 skottel-antennas sal bestaan, gebou.
Willem Esterhuyse, MeerKAT se projekbestuurder, het gesê die dataskakel is 10 MB/sekonde en dit gaan later opgegradeer word na 10 GB/sekonde. Dié uiteindelike lyn sal met die Suider-Afrikaanse Groot Teleskoop in Sutherland gedeel word. Die lyn sal einde Junie vanjaar voltooi wees en sal as die permamente lyn dien.
Die huidige lyn bestaan uit optiese vesel wat van die terrein op kragpale gedra word tot in Carnarvon, en vandaar word dit ingeskakel op Telkomlyne.
Die terrein word deur ’n nuwe elektrisiteitsnetwerk (22kV) voorsien. Daar sal na 33kV oorgegaan word sodra die Karoo-substasie se opgradering voltooi is, het die department van wetenskap en tegnologie gesê.
Indien daar ’n kragonderbreking sou wees, word elektrisiteit vanaf Klerefontein voorsien.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger