MeerKAT-skottelontwerp voltooi
2010-10-12 07:06
Volksblad
Kaapstad - Suid-Afrika se radio-astronomieprojekte het ’n groot stap vorentoe geneem nadat die eerste skottelontwerp vir die Karoo Array Telescope (MeerKAT) gefinaliseer is.
Die kwalifikasiemodel (prototipe) vir die eerste skottel-antenna is ook volgens Willem Esterhuyse, MeerKAT se projekbestuuder, aansienlik meer sensitief as dié wat ’n paar jaar gelede beplan is. “MeerKAT is opgegradeer,” het hy gesê.
Dit kom nadat KAT-7, wat uit sewe padvinderskottels bestaan en ’n leerfase tot die prototipe was, suksesvol voltooi is. Wetenskaplike navorsing is selfs met die instrument gedoen.
MeerKAT is Suid-Afrika se padvinder-radio-astronomieprojek wat in ’n wedloop met Australië gewikkel is om eindelik die wêreld se grootste teleskoop, die Square Kilometre Array (SKA), buite Carnarvon in die Noord-Kaap te vestig.
Die ontwerp van die kwalifikasiemodel is pas goedgekeur. Dié skottel-antenna is sowat 13,5m in deursnee en sal tussen 17m en 18m hoog wees. Die eerste een sal nou op die terrein gebou word en aan streng toetsing onderwerp word.
Esterhuyse het gesê indien nodig, sal die ontwerp aangepas en verfyn word, waarna MeerKAT gebou sal word. Intussen is besluit om 64 skottel-antennas te bou wat veel meer sensitief sal wees as die aanvanklike 80 wat vir MeerKAT beplan is.
MeerKAT behoort teen 2016 voltooi te wees.
Spesifikasies sal nou saamgestel word waarna ’n tenderproses gevolg sal word.
“Heelwat meer as die antennas is betrokke, soos die ontvangers, hoëspoed-digitale elektronika en gevorderde programmatuur om die data te verwerk, wat net so ’n groot uitdaging is,” het hy gesê.
Die nuwe ontwerp is van so ’n gehalte dat dit ’n ware voorloper vir die SKA kan wees, het prof. Justin Jones, die SKA se projekwetenskaplike, gesê. Twee ontvangers is op die struktuur wat tot beter beeldvorming sal lei.
Die ontwerp staan bekend as Gregoriaans en dit sal eindelik vir die SKA gebruik word.
Indien Suid-Afrika wel die kans kry om die SKA te bou (met internasionale geld), sal MeerKAT deel word van dié groter struktuur. Indien nie, behou die land ’n top-navorsingsinstrument.
- Volksblad