Meer testosteroon, minder hartkwale
2011-10-05 10:42
New York – Ouer mans met natuurlik hoër vlakke testosteroon is dalk minder geneig om hartaanvalle en beroertes te kry as mans met minder van die hormoon, het ‘n studie bevind.
Die navorsers van die Universiteit van Goteborg in Swede het 2 400 mans in hul 70’s en 80’s bestudeer en bevind mans met meer testosteroon is minder geneig hartaanvalle en beroertes te kry.
“Ons kan bevestig mans met meer testosteroon is relatief beskermd teen kardiovaskulêre kwale,” het die hoofnavorser, Asa Tivesten, gesê.
Die navorsers het egter gesê dié verskynsel is dalk nie alleen aan die manlike geslagshormoon te danke nie en hulle skryf nog nie testosteroonaanvullings vir hartsiektes voor nie.
Die bevindinge is in die Journal of the American College of Cardiology gepubliseer.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters