Meer koffie, minder kanker vir vroue, sê navorsers
2011-11-23 12:20
New York – Vroue wat meer as vier koppies koffie per dag drink kan hul kans op endometriale kanker verlaag, het navorsers in Amerika bevind.
Die navorsers het 67 000 vroue oor die loop van 26 jaar bestudeer.
‘n Totaal van 672 gevalle van die kanker, wat die uterus raak, is oor die verloop van die jare gerapporteer.
Vroue wat vier of meer koppies koffie per dag gedrink het, was 25% minder geneig om die kanker te ontwikkel terwyl vroue wat twee of drie koppies gedrink het se kanse 7% skraler was.
Vroue wat twee of meer koppies kafeïenvrye koffie gedrink het, was ook 22% minder geneig om die kanker te ontwikkel, lui die navorsing in die joernaal Cancer Epidemiology, Biomarkers and Prevention.
“Daar is reeds bevind dat koffie teen diabetes beskerm as gevolg van die effek daarvan op insulien,” het die hoofnavorser, Edward Giovannucci van die Harvard-universiteit, gesê. “Met hierdie studie het ons daardie idee met betrekking tot kanker toegepas.”
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.