Meer bewyse dat sjokolade dalk gesond is
2010-03-31 14:00
Londen – Volgens ‘n nuwe studie kan ‘n klein, daaglikse dosis sjokolade jou kanse met amper 40% verminder om ‘n hartaanval of beroerte te kry.
Duitse navorsers het sowat 20 000 mense agt jaar lank dopgehou en talle vrae gevra oor hul dieet en oefengewoontes.
Hulle het gevind dat mense wat ‘n gemiddeld van 6g sjokolade (omtrent een blokkie) per dag geëet het ‘n 39% laer risiko het om ‘n hartaanval of beroerte te kry.
Kenners glo dat die flavonol, ‘n tipe anti-oksidant in sjokolade, verantwoordelik is hiervoor.
Dié anti-oksidant, wat ook in groente en rooiwyn voorkom, veroorsaak dat die spiere in bloedvate uitsit en sodoende bloeddruk verlaag.
Dit is egter glo te vroeg om voor te stel dat mense meer sjokolade moet eet, maar dit kán help as mense suiker of lekkernye met ‘n hoë vet-inhoud met ‘n klein stukkie donker sjokolade vervang.
Verdere studies moet eers gedoen word om gevolgtrekkings te bevestig.
Dokters waarsku ook dat te veel sjokolade tot gewigstoename kan lei wat ‘n groot risiko vir hartprobleme en beroertes is.
Die studie word Woensdag in European Heart Journal, ‘n mediese joernaal, gepubliseer.
- AP