Meer as 80 renosters al vanjaar gestroop
2013-02-07 14:06
Johannesburg – Altesaam 82 renosters is al in Suid-Afrika sedert die begin van Januarie gestroop, het die departement van waterwese en omgewingsake Woensdag gesê.
“Die Krugerwildtuin word steeds die hardste getref deur renosterstropers. Altesaam 61 renosters is al vanjaar in die wildtuin gestroop,” het die departement in ‘n verklaring gesê.
“Twinitig stropers is al in hegtenis geneem, waarvan 14 in die Krugerwildtuin was.”
Agt renosters is in KwaZulu-Natal gestroop, ses in Noordwes, vier in Mpumalanga en drie in Limpopo.
Edna Molewa, minister van omgewingsake, het gesê dat sy die toename in stropery gesien het, maar dat sy vol vertroue is dat SA Nasionale Parke op die randjie daarvan is om ‘n ommeswaai te bewerkstellig as gevolg van die inisiatiewe wat teen stropery geïmplimenteer is.
Molewa beplan ook om op 22 Februarie met haar Mosambiekse eweknie te vergader vir opvolggesprekke ná verlede jaar se vergadering oor die veiligheid en sekuriteit van renosters.
Sy het ook die besluit deur Viëtnam se regering verwelkom 'n verbod te plaas op alle renosterinvoere.
In 2012 is 668 renosters in Suid-Afrika doodgemaak.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA