Marstuig: SA doen deel
2011-11-28 07:00
Kaapstad. – “Die senuwees het erg geknaag”, maar Suid-Afrika het Saterdagmiddag die kommunikasie van die nuutste Nasa-sending na Mars “foutloos” oorgeneem.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap (Sansa) se ruimte-operasies het ’n belangrike rol gespeel nadat Curiosity, die Mars-wetenskaplaboratorium, van Cape Canaveral in Florida in die VSA gelanseer is.
Dié lansering was om 17:02 Suid-Afrikaanse tyd en 35 min. later het Sansa met behulp van die Hartebeeshoek-telemetriestasie se skottelantenna die Atlas V-vuurpyl teen die horison gevolg.
Sowat 42 minute ná lansering het die ruimtetuig en vuurpyl geskei en Sansa het dié data en videobeelde aan Nasa gestuur.
Daarna het Sansa die ruimtetuig vyf minute lank gevolg.
Tiaan Strydom, kontrakbestuurder van TT&C Internasionaal by Sansa-ruimte-operasies, het Sondag gesê van die lansering totdat hulle met hul taak klaar was, was die spanning groot.
“Maar alles het baie goed verloop”.
Raoul Hodges, besturende direkteur van ruimte-operasies, het gesê Sansa wil betrokke raak by meer sulke geleenthede en uiteindelik Suid-Afrika se eerste nasionale ruimte-program ontwikkel.
Sansa is al bedrewe in die werk en was al betrokke by steundienste vir 17 sendings na die Internasionale Ruimtestasie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger