Mans, laat julle besny, sê minister
2011-11-25 08:02
Kaapstad – Alle Suid-Afrikaanse mans wat nog nie besny is nie, móét die prosedure ondergaan omdat dit die kanse drasties verminder om die MI-virus op te doen.
Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het gister dié pleidooi in die Nasionale Vergadering gerig.
“Ons het bewyse dat manlike besnydenis die kanse verminder van die oordrag van die virus van man na vrou,” het hy gesê.
Motsoaledi het in die debat oor Wêreldvigsdag gesê verteenwoordigers van die regering sal op ’n landwye toer gaan om dié boodskap te verkondig.
“Ons gaan ’n beroep doen op elke man wat nog nie besny is nie om te sorg dat hy besny word.”
Staatsgesondheidsgeriewe sal besnydenisse gratis uitvoer.
Hy het gesê besnydenis moet deel wees van ’n omvattende pakket boodskappe oor seksuele gesondheid. Dit sluit die gebruik van kondome en verantwoordelike gedrag teenoor seksmaats in.
–Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld