Man wil renosterhorings vergiftig
2010-07-24 03:00
Kaapstad – ‘n Eienaar van die renoster- en leeupark naby Krugersdorp, wes van Johannesburg, glo dat hy ‘n einde aan wildstropers sal bring as hy renosters se horings vergiftig.
Ed Hern glo dat as hy dié stappe neem, sal verbruikers van die produk siek word of doodgaan.
“Ons moet probeer om die horings met iets soos sianied te vergiftig sodat wanneer iemand dit vir medisyne gebruik sal hulle doodgaan. Ek het toetse saam met ‘n veearts begin,” het hy gesê.
Suid-Afrikaanse eienaars van renosters is besig om toenemend desperaat te raak terwyl die land deur sindikate wat renosters stroop, geteiken word.
Daar word beweer dat dié wildstropers saam met mense in die bedryf werk om by te bly met die hoë aanvraag van renosterhorings in Viëtnam en China.
“Wat hulle doen is onwettig. Ons moet dit vir eens en altyd stop,” sê Hern.
Met die hulp van ‘n veearts is Hern besig om klein hoeveelhede gif in die horings van een van sy renosters in te spuit om te sien of dit enige negatiewe effekte het.
“Die horing is van hare gemaak, daar is geen bloedvloei deur dit nie en sover het ons geen effekte gesien nie. Maar as iemand die horing as medisyne gebruik sal hulle baie siek word of doodgaan.”
Hern het selfs met prokureurs gepraat om uit te vind wat sal gebeur as hulle die idee deurvoer.
“Hulle sê vir my ek sal in baie moeilikheid beland.”
Faan Coetzee, van die Endangered Wildlife Trust, sê dit sal ‘n misdadige oortrede wees om die horings te vergiftig.
“As iemand doodgaan kan jy vir moord in hegtenis geneem word. Ons dink nie hierdie is ‘n oplossing nie.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA