Man los selfmoordbrief op Twitter
2010-06-16 21:00
Seoel – ‘n Suid-Koreaanse man het ‘n doodsboodskap op die sosiale netwerk, Twitter, vir sy vriende en familie agtergelaat en toe selfmoord gepleeg.
Die polisie het Lee Kye-Hwa (27), ‘n voormalige platejoggie, se lyk naby die Han-rivier gevind waar hy homself Dinsdag gehang het.
Sy gesin het hom as vermis aangemeld nadat hy ‘n kort boodskap op Twitter geskryf het.
“Ek gaan selfmoord pleeg. Aan almal van julle wat ‘n vriendskap met my gedeel het, ek is lief vir julle,” het hy geskryf.
Volgens ‘n woordvoerder van Seoel se Mapo-polisie het die ondersoekbeamptes vasgestel dat Lee wel selfmoord gepleeg het.
Na bewering het hy erge finansiële probleme gehad.
Lee se volgers op Twitter het probeer om hom op te spoor na sy tragiese boodskap, maar kon nie daarin slaag nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP