Maat help bulkalfie om trauma te oorleef
2011-11-22 11:36
Port Elizabeth – Alles moontlik word gedoen om die renosterbulkalfie wie se horing vroeër dié maand in die Oos-Kaapse Shamwari-natuurreservaat gestroop is, se lewe te red.
Dié 18 maand oue kalfie was by sy ma toe stropers met doofpyle toegeslaan het.
Daarna het hulle die koei se horing vermoedelik met pangas uitgekap en syne “netjies” met ’n kettingsaag afgesaag.
Tanner2, soos hy intussen gedoop is, het die aanslag oorleef.
“Maar hy het ernstige beserings opgedoen,” het Johan Joubert, die luukse reservaat se veearts en natuurlewe-direkteur, gesê.
“Omdat hy vyf uur in ’n koma was, het die son direk in sy een oog gebrand.
“Die oog wat teen die grond gedruk was, is ook beskadig.
“Sy regteragterbeen, wat ook vyf uur lank onder sy lyf vasgedruk was, is baie opgeswel.
“Daar is baie dooie oppervlakhuid wat aanhoudend ontsmet en verwyder moet word.”
Om alles so “normaal” moontlik vir Tanner2 ná sy traumatiese ondervinding te maak, geniet hy nou die geselskap van ’n ander renosterkalfie.
Dié is ook wees gelaat nadat stropers sy ma in die Kariega-natuurreservaat doodgemaak het.
“Hy eet darem en drink ook water – dit is ’n goeie teken.”
Joubert kom ook pas uit die hospitaal en was gister die eerste keer in ’n week en ’n half sedert die voorval by die kalfie.
Hy het drie dae ná die stroop-voorval sy been op vier plekke gebreek toe hy in ’n bergagtige gebied in die Shamwari-natuurreservaat geval het.
Sy been is nou vol plate en skroewe en hy beweeg moeilik.
Tog sorg hy dat hy by die wees bulkalfie uitkom, “sodat ek self kan toesien dat sy wonde genees”.
Joubert wou nog nie ’n definitiewe mening oor Tanner2 se oorlewingskanse waag nie.
Intussen is die Shamwari-stropers nog op vrye voet, hoewel talle leidrade opgevolg word, het Joubert gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger