Maak Facebook-vriende met Zuma
2012-02-06 07:02
Johannesburg – Pres. Jacob Zuma sal voor sy staatsrede op 9 Februarie sosialemedia netwerke soos Facebook en Twitter inspan om na Suid-Afrikaners se probleme te luister.
Dit kom nadat Zuma verlede jaar Facebook glo suksesvol gebruik het om Suid-Afrikaners aan te moedig om met hom te praat oor hul behoeftes.
Bongokuhle Miyavan Umzimkhulu in die Oos-Kaap het Facebook gebruik om Zuma van probleme met riool, vloedwater en rondloperdiere in haar gemeenskap te vertel.
Volgens die presidensie is die rioolstelsel herstel, die paaie verander om vloede te weerstaan en ’n skut gebou.
Portia Mrwetyana van Bekkersdal in Gauteng het Zuma op Facebook gevra vir huise vir haar gemeenskap. ’n Ondersoek het aan die lig gebring dat die informele nedersetting op dolomietgrond, wat sinkgate kan vorm, gebou is.
“Die regering het ’n program begin waarin die gemeenskap na die nabygeleë Mohlakeng-gebied verskuif is waar geskikte huise gebou en basiese dienste aangelê is,” het die presidensie gesê.
Stuur e-pos aan die president by president@po.gov.za, besoek die Facebook-blad PresidencyZA of die Twitter-rekening @SAPresident.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA