MXit verkoop aan World of Avatar
2011-09-22 20:59
Johannesburg – Die maatskappy World of Avatar het ‘n ooreenkoms onderteken om 90% van die sosiale netwerk MXit vir ‘n onbekende bedrag te koop.
Die personeel van die sosiale netwerk vir selfone sal 10% van die aandele in die maatskappy behou aangesien die stigter Herman Heunis in 2005 ‘n trust om dié doel gestig het.
Beide huidige aandeelhouers, MIH Holdings (‘n filiaalmaatskappy van Naspers) en Herman Heunis het hul aandele in MXit verkoop.
“Die stigting van MXit was vir my ‘n ongelooflike ervaring,” het Heunis
gesê. “Ek het hope pret gehad, maar dit is nou tyd om nuwe lewe in die
maatskappy te kry.”
Mxit is Afrika se grootste draagbare sosiale netwerk en het meer as 43 miljoen rekeninge in meer as 120 lande.
“Ons mik om MXit se posisie as die grootste draagbare sosiale netwerk te handhaaf,” het Alan Knott-Craig, die hoof van World of Avatar gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- I-Net Bridge (News24)