MIV onder jeugdiges minder
2011-06-01 21:01
Johannesburg – Die hoeveelheid jeugdiges wat MIV-positief is,
het die afgelope dekade wêreldwyd met 12% gedaal, het UNICEF in ‘n verslag
gesê.
Wêreldleiers se teiken was egter dat
MIV-infeksies met 25% moet daal.
“Is dit vooruitgang? Ja.
“Is dit genoeg? Beslis nie,” het Elhadj As Sy,
UNICEF se direkteur in oostelike en suidelike Afrika, gesê.
Luidens die verslag is vyf miljoen mense tussen
die ouderdom van 15 en 24 MIV-positief en alhoewel dit 12% minder is as ‘n
dekade gelede, is daar steeds daagliks 2 500 nuwe gevalle.
Meer as 60% van die wêreld se MIV-positiewe
jeugdiges is vroue. In Sub-Sahara-Afrika is 75% MIV-positiewes jong vroue.
Verder is amper vier van die vyf miljoen
jeugdiges wat MIV-positief is, in Sub-Sahara-Afrika.
Elhadj As Sy het benadruk dat seks tussen emosioneel onvolwasse
jongmense, swangerskap en dwelmmisbruik dié situasie aanvuur.
Hy het ‘n beroep op gemeenskappe gedoen om die
kwessies aan te spreek.
“Hierdie moeilike kwessies moet vreesloos
aangepak word,” het hy gesê.
“Vir te lank is daar anderpad gekyk
en is sulke kwessies bloot geïgnoreer.”
Die studie het ook getoon dat die meeste jongmense
wat MIV-positief is, nie bewus is van hul positiewe status nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP