Luiperd en haar welpies gekiek
2011-12-02 07:01
Stellenbosch – ’n Kaapse luiperdwyfie en haar tweede werpsel welpies is in die gebergtes naby die Wemmershoekdam met ’n sensorkamera gekiek.
Dit is nie die eerste keer dat dié wyfie, genaamd BF1, met welpies gewaar is nie. Sowat 18 maande gelede is sy ook met twee kleintjies in dieselfde gebied afgeneem.
Hoewel die jongste foto in Oktober geneem is, het die Cape Leopard Trust nou eers die foto gesien nadat die geheuekaart van die sensorkamera afgelaai is. Die trust koördineer ’n grootskaalse luiperdstudie in die Boland.
Sensorkameras word bedags en snags deur hitte en beweging geaktiveer en stel die navorsers in staat om die gedrag van wilde diere beter te verstaan en data oor verskillende diersoorte, veral die luiperd, in te samel.
“Ons was in ekstase toe ons die foto sien. Foto’s van luiperds is altyd spesiaal, maar welpies is ’n wonderlike bonus,” het Anita Meyer van die trust gesê.
BF1 se eerste twee welpies is in Januarie 2010 in die vallei agter die Wemmershoekdam gebore.
“Dit lyk of BF1 goed gedoen het om haar eerste twee kleintjies groot te maak. Die tweede werpsel is nog baie jonk. Ons hoop dat sy ook suksesvol met dié grootmaakproses sal wees,” het Meyer vervolg.
Die welpies was ongeveer drie maande oud toe hulle afgeneem is. Dit is onbekend waar BF1 se ander twee jong afstammelinge hulle nou bevind.
“Daar is baie min inligting oor die voortplanting van die Kaapse luiperd. Ons weet daar is gewoonlik tussen twee en drie welpies in ’n werpsel,” het Jeannie Hayward, Meyer se kollega, gesê.
“As die wyfie daarin slaag om hulle suksesvol groot te maak, sal die tussengeboorte-tydperk van 18 maande tot twee jaar wees.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger