Lugredery gebruik kookolie as brandstof
2011-06-23 14:14
Amsterdam – Die Nederlandse lugredery KLM het bekendgemaak hy sal biobrandstof gemaak van gebruikte kookolie gebruik om meer as 200 kommersiële vlugte tussen Parys en Amsterdam die lug in te stuur.
“Daar sal 50% tradisionele brandstof en 50% biobrandstof, gemaak van die gebruikte kookolie, gebruik word,” het Gedi Schrijver, 'n woordvoerder vir KLM, gesê.
KLM sal die eerste lugredery wees om dié brandstof te gebruik, het hy bygevoeg.
Geen meganiese veranderings hoef aan die vliegtuie aangebring te word om die brandstof te gebruik nie, lui ‘n verklaring van die maatskappy.
“Alle biobrandstowwe moet aan dieselfde streng tegniese vereistes as gewone brandstof voldoen,” lui die verklaring.
Die Amerikaanse maatskappy Dynamic Fuels vervaardig die brandstof meestal van gebruikte kookolie wat uit restaurante se potte herwin word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP