Louwarm ontvangs vir Windows 8
2012-10-29 08:52
San Francisco – Microsoft het heelwat werk om te doen as hy wil hê sy nuwe Windows 8-bedryfstelsel moet die mark se verbeelding aangryp, het 'n nuwe peiling deur The Associated Press en GfK getoon.
'n Telefoonpeiling van bykans 1 200 volwassenes in die VSA het getoon dat 52% van respondente teen Vrydag, toe die produk bekendgestel is, nog nie eens van dié nuwe sagteware gehoor het nie.
Onder diegene wat wel al van die nuwe stelsel gehoor het, het 61% min of geen belangstelling getoon in die aankoop van 'n rekenaar wat deur dié sagteware aangedryf word.
Boonop meen slegs 'n derde van alle respondente wat al van die stelsel gehoor het, dat dit 'n verbetering op die ou sagteware sal wees.
"Ek is nie regtig so opgewonde dat hulle dinge verander nie," het Chris Dionne, 'n ingenieur en een van die respondente, gesê.
"Windows 7 doen alles wat ek wil hê. Waar is die beloning vir my belegging as ek 'n nuwe bedryfstelsel moet leer?"
Microsoft stel gewoonlik elke twee of drie jaar 'n nuwe weergawe van sy Windows-bedryfstelsel bekend, maar dié spesifieke weergawe lyk heelwat anders as sy voorgangers. Windows 8 is veral geskik vir mobiele platforms en raakskermstelsels, en die ontwerp van die produk is perfek vir mense wat dit op dié toestelle sal gebruik.
Microsoft sal na verwagting sowat $1 miljard (ongeveer R8,6 miljard) spandeer om Windows 8 te bemark.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA