Leeuwelpies uit smokkelaars se hande gered
2011-03-28 13:33
Mogadisjoe – Hul ma is geskiet en hulle is deur ‘n burgeroorlog vervoer om as troeteldiere in die Midde-Ooste verkoop te word, maar die intrede van Somaliese owerhede het uiteindelik twee leeuwelpies van ‘n baie onsekere toekoms gered.
Die leeutjies is oorspronklik aan boord van ‘n skip in die land se hawe ingesmokkel.
Die twee welpies, wat broer en suster is, is na bewering seldsame Berbera-leeus, te wyte aan die kolle op hul pelse.
Hulle is vier weke gelede weggeneem nadat Mogadisjoe se hawebestuurder sy vermoede aan Bancroft, ‘n organisasie wat vredesbewaarders van die Afrika Unie in die oorloggeteisterde hoofstad oplei, vertel het.
Dit is nie die eerste keer wat diere in die hande van smokkelaars gevind is nie, maar dit is die eerste keer wat hulle afgeneem is, het Richard Bailey, wat vir Albany Associates in Mogadisjoe werk, gesê.
Diere wat so gesmokkel word, word glo na privaatkopers in lande soos Doebai en die Verre-Ooste gestuur.
Die twee welpies word nou deur werkers van Bancroft versorg, waar daar geriewe en veearts-sorg is.
Mike Stock, die hoof van Bancroft, het gesê “die plan is dat die [Somaliese president] Sheikh Sharif hulle aan die [president van Uganda] Museveni gee totdat Somalië daartoe in staat is om hulle terug te neem.”
Volgens Bailey eet die drie maande oue welpies ‘n hele bok elke drie dae.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP