Lees ook nou op Wikipedia oor grafmoord
2011-04-13 09:07
Bloemfontein - Mense van oor die wêreld heen kan nou oor die wrede moord op Michael van Eck (24) van Welkom lees, nadat inligting daaroor op die internet-ensiklopedie Wikipedia geplaas is.
Dit kan onder die opskrif Graveyard Murders op die Wikipedia-bladsy oor die televisiereeks Dexter gekry word.
Die inligting oor die Welkom-moord vorm deel van die kritiek teen die betrokke televisiereeks.
Volgens die skrywe op dié bladsy van die ensiklopedie het Van Eck se vermeende moordenaars, Chane van Heerden (20) en Maartens van der Merwe (24), baie van Dexter gehou.
Hul verhouding het glo die dodelike en grusame verhouding tussen die karakters Dexter Morgan en Lumen Pierce weerspieël.
Volksblad-lesers het sterk op dié koerant se Facebook-bladsy oor die vermoedelike verband tussen Dexter en die Welkom-moord gereageer.
Kobus Coetzee sê die moorde is nie op Dexter gegrond nie. “As ’n grootmens so maklik beïnvloed word deur ’n program op TV, was hy/sy inherent swak, beïnvloedbaar en evil.”
Coetzee sê indien mense wel so maklik deur televisieprogramme beïnvloed kon word, was “ons almal sporthelde, DIY-experts en great lovers ...”
Volgens ene Koelie is die vermeende moordenaars nie drie jaar oud nie en hulle kan tussen reg en verkeerd onderskei.
Elaine du Plessis skryf: “Bly ek kyk nie daai siek storie nie. Stel ook glad nie belang nie. Die voorprente het my al klaar heeltemal afgesit. Daar is bitter siek mense in ons wêreld. Bitter siek.”
Linda Botha sê: “Ag toggie, hulle moet tog nou net nie my geliefde Dexter afhaal nie.”
Die televisiereeks Dexter handel oor ’n forensiese deskundige vir die polisiedepartement in Miami, Amerika, wat ook ’n reeksmoordenaar is.
- Besoek die Wikipedia-bladsy met die inligting oor die Welkom-moord.
- Volksblad