Lag-gas in die kraamsaal bring verligting
2011-02-14 21:58
Concord – Die gebruik van lag-gas om pyn te verlig word vir dekades reeds nie meer tydens geboorte voorgeskryf nie.
Dit is slegs by twee hospitale in die VSA, een in San Fransisco en een in Seattle, beskikbaar.
Maar ‘n hele paar gerespekteerde hospitale oorweeg dit weer om dit as ‘n opsie vir vrouens wat sonder pyn wil geboorte skenk, aan te bied.
Die federale regering neem dit ook in heroorweging en na verwagte sal die toerusting wat nodig is om dit toe te dien, binnekort weer op die mark beskikbaar wees.
“Ek sal dit definitief oorweeg,” sê Lori Rowell wat in Junie aan haar tweede kind sal geboorte skenk.
“Ek sal beslis daaroor oplees en met my dokter daaroor praat.
“Dis goed om te weet dat dit nie enige effek op die baba het nie, wat my bekommer oor ‘n epiduraal,” sê de 36-jarige ma.
Die gebruik van laggas is steeds algemeen in Kanada en Brittanje, maar in die VSA het ander opsies, soos ‘n epiduraal, voorkeur geniet.
Judith Bishop, ‘n gesertifiseerde vroedvrou by die Universiteit van Kalifornia San Francisco Mediese Sentrum, is tans besig met ‘n veldtog om dié alternatief weer in algemene gebruik te stel.
“Die afgelope paar dekades het medici meer tegnologies-gevorderde pyndoders voorgeskryf,” sê sy.
Sy sê egter dat laggas, wat ook ‘n goedkoper opsie is, nie die pyn heeltemal wegvat nie, maar beslis die moeder se pyn verlig.
“Dis nie die regte ding vir almal nie, maar sal beslis ‘n sekere mate van verligting aan die ma’s bied,” sê sy.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AP