Lag die beste medisyne vir demensie
2011-09-29 14:33
New York – Lag mag dalk die beste medisyne vir bejaarde pasiënte met demensie wees – en daar is geen newe-effekte nie, het navorsers bevind.
Die Australiese humorterapeut Jean-Paul Bell laat bejaardes lag met ‘n program wat hy Play-Up noem.
“Die idee van die Arts Health-instituut is om bejaardes aan te moedig om te speel, want ons glo hulle het die potensiaal om aan te hou speel tot hulle hul laaste asems intrek,” het hy gesê.
Die studie, genaam die SMILE-studie, is oor drie jaar in 36 tehuise onderneem.
Bell trek ‘n blou jas met blink knope aan en gebruik ‘n kombinasie van grappe, speletjies en liedjies om die oumense te laat lag.
Die bejaardes met demensie is meer gerus en hul onrustigheid word met 20% verminder, het die hoofnavorser, Lee-Fay Low, van die Universiteit van Nieu-Suid-Wallis gesê.
Sowat 6.5% van mense oor die ouderdom van 65 en 22% van mense oor die ouderdom van 85 ly aan demensie, ‘n versamelterm vir sowat 60 verskillende versteurings wat agteruitgang in die werking van die brein veroorsaak.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters