Laat jou toets vir MIV en wen baie
2011-11-28 09:00
Kaapstad – Groot partytjies is nie deel van die Wes-Kaapse regering se veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders nie – maar ’n kompetisie om mense aan te moedig om hulle vir MIV/vigs te laat toets, is wel.
En in dié kompetisie wen almal wat deelneem, al het hulle nie die R50 000 of een van die vyf R10 000-pryse losgeslaan nie, het die premier, Helen Zille, gesê, want dan weet hulle wat hul status is.
Zille het gister op die eerste dag van die veldtog gesê die Weet-en-wen-veldtog is ’n loodsprojek in die provinsie se beleidsbenadering van gedrags-ekonomie. “Ons beloon mense eerder as om dwangmetodes te gebruik om te verseker dat alle volwassenes gereeld hul MIV-status laat toets.”
Volgens Zille is vroue en kinders in die Wes-Kaap en die res van die land se swaarkry weens MIV/vigs baie ernstig.
Sy het gesê dit gebeur gereeld dat vroue en jong meisies MIV opdoen wanneer mans wat onbewus is van hul status hulle dwing om onbeskermde seks te hê. “Dit is geweld teen vroue en jong meisies,” het sy bygevoeg. “Hul keuse word hulle ontneem en hulle word aan gevare en leed blootgestel.
“Dit is noodsaaklik dat ons begin om gedrag in die provinsie en die res van die land te verander sodat ons dié situasie kan omkeer,” het sy bygevoeg.
“Dit is nie onsimpatiek van ’n samelewing om te vereis dat individue verantwoordelikheid vir hul eie gesondheid aanvaar nie.”
Zille het gesê sy glo dit is reg vir ’n regering om besorg te wees oor persoonlike gedrag wat openbare gevolge het, veral wanneer dit miljarde rande kos.
Sy het bygevoeg meer as die helfte van die Wes-Kaap se gesondheidsbegroting gaan aan voorkombare probleme bestee word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger