Laaste baba in nuwe TB-projek ingeënt
2011-04-29 09:10
Worcester - ’n Baba van Montagu het gister geskiedenis gemaak toe hy die laaste inenting in die wêreld se mees gevorderde kliniese toets in die soeke na ’n nuwe entstof vir tuberkulose (TB) ontvang het.
Leroy Muller (virt maande) het soet op sy ma, me. Sarie Muller, se skoot gesit en wag, maar hy het luidkeels van homself laat hoor toe hy die 2784ste baba geword het om aan die Suid-Afrikaanse Tuberkulose Enstof-inisiatief (Satvi) deel te neem.
Leroy is gou-gou met ’nPaaseier getroos.
Die navorsing het in Julie 2009 begin en word deur die Instituut vir Aansteeklike Siektes en Molekulêre Medisyne aan die Universiteit van Kaapstad gelei.
Dr. Michele Tameris, entstof-toetsbestuurder, het verduidelik dat die entstof-fase van die kliniese toetse (fase IIb) nou klaar is, maar dat die babas nog tot April aanstaande jaar gemonitor sal word. Hulle hoop die nuwe entstof sal mense teen alle vorme van TB beskerm – ook teen multi- en ekstra weerstandige TB.
Soos met alle kliniese toetse het die helfte van die babas die nuwe entstof ontvang en die ander helfte ’n plasebo.
Indien die middel doeltreffend is, sal daar later met die volgende fase begin word, en altesaam 25000 mense sal reg oor die wêreld betrek word.
“Indien die entstof werk, sal dit Suid-Afrika en die res van die ontwikkelende wêreld dramaties verander,” het Tameris gesê.
Babas van Worcester, Robertson, De Doorns, Touwsriver, Montagu, Ashton, Bonnievale, McGregor, Wolseley, Tulbagh, Prince Alfred Hamlet, Rawsonville, Villiersdorp en Ceres neem aan die projek deel.
Me. Francis Gordon en baba Connor van Ceres was ook gister daar. Connor is besig om tande te kry en sy ma meen “dit is ’n goeie ding om aan die studie deel te neem”.
Me. Hanichia Spannenberg en baba Hanico is ook van Ceres. Sy het dadelik ingestem om aan die studie deel te neem. En Hanico? “Wel, in dié stadium van sy lewe eet, drink en huil hy nog net,” het Spannenberg gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger