LG stel slimfoon bekend
2012-09-18 13:26
Seoel – LG Electronics het sy nuwe slimfoon bekend gestel wat teen Samsung en Apple moet meeding om die wêreldwye mark te oorheers.
Die Suid-Koreaanse elektronikareus het gesê die nuwe toestel, die Optimus G, sal volgende week in Suid-Korea beskikbaar wees voor dit in Oktober na Japan verskeep sal word. Die toestel sal in November in die res van die wêreld beskikbaar wees.
Die bekendstelling kom minder as ‘n week nadat Apple sy nuwe iPhone 5 – wat meer as twee miljoen bestellings in minder as 24 uur gekry het – bekend gestel het.
Samsung, wat al meer as 20 miljoen van sy Galaxy SIII-slimfone, wat in Mei bekend gestel is, verkoop het, sal glo ook een van die dae die nuutste weergawe van sy Galaxy Note-slimfoon bekend stel.
“Hierdie toestelle gaan altyd met mekaar moet meeding, maar ons verwag noemenswaardige en verrassende verkoopsyfers vir hierdie produk,” het Park Jong-Seok van LG gesê.
Hy het egter nie oor die verkoopsteiken uitgebrei nie.
Die nuwe foon, wat met Google se Android-sagteware werk, se programme gaan sowat 40% vinniger werk.
Die Optimus G, wat 13,2cm lank en 6,9cm wyd is, laat ook gebruikers toe om videos wat speel van nader te bekyk en foto’s te neem deur woorde soos “cheese” en “smile” te herken.
Mens kan ook terselfde tyd ‘n video kyk en boodskappe stuur.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP