Kyk uit vir dié ligseine uit ruimte
2012-10-05 12:19
Video - Satelliet sal swart kolke soek
Nasa het sy NuSTAR-satelliet, wat na swart kolke in die ruimte sal soek, vanaf 'n vliegtuig oor die Stille Oseaan gelanseer.
KYK
Tokio – 'n Piepklein Japannese satelliet wat in 'n wentelbaan om die Aarde is, sal 'n Morse kode uitsaai wat van volgende maand af om die wêreld sigbaar sal wees, het die sendingbevelvoerder gesê.
Navorsers hoop die satelliet, 'n kubus van slegs 10 cm, wat Vrydag vanuit die Internasionale Ruimtesentrum gelanseer is, sal die eerste satelliet wees om 'n LED-boodskap na die Aarde te stuur.
Die ligseine was oorspronklik net veronderstel om in Japan gesien te word, maar mense oor die wêreld heen het gevra dat die satelliet met hulle kommunikeer, het Takushi Tanaka, professor by die Fukuoka Instituut vir Tegnologie, gesê.
"Versoeke het ingekom van baie meer mense as wat ek verwag het – 'n man in Silicon Valley wou dit sien en 'n man wou gehad het ons moet dit laat flits oor Central Park in New York," het Tanaka aan die nuusagentskap AFP gesê.
Hy sê hy het ook versoeke van mense in Italië, Duitsland, Brasilië, Brittanje en Hongarye ontvang.
"Daar is geen praktiese doel daarvoor nie, maar dis 'n prettige eksperiment waaraan almal kan deelneem," het hy gesê.
Die lig sal selfs met 'n eenvoudige verkyker gesien kan word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP