Kuberkrakers val poniekoerant aan oor meeluistering
2011-07-19 11:06
Londen – Die kuberkrakergroep LulzSec het die meeluisterskandaal in Brittanje as nog 'n geleentheid gebruik om amok te maak op die internet.
In die jongste voorval het LulzSec 'n skakel na 'n vals berig oor die beleërde mediamagnaat Rupert Murdoch op die webwerf van The Sun geplant.
"We have joy we have fun, we have messed up Murdoch's Sun," het die groep Dinsdag getweet.
Minute later het die groep die News International-poniekoerant se webtuiste verder gekraak en gebruikers wat die adres wou besoek na sy eie Twitter-profiel gestuur.
Dié kuberaanvalle het begin kort ná nuus oor die meeluisterskandaal by News of the World, voorheen die grootste verkoper in Murdoch se mediastal, bekend geword het.
LulzSec het onlangs gesê hy sal alle kuberaanvalle staak na ‘n vlaag aanvalle op bekende instansies soos die Amerikaanse intelligensiediens en die Japanse speletjiesvervaardigers Sony en Nintendo.
“Dankie vir die ondersteuning vanaand,” het LulzSec getweet. “Ek weet ons het uitgetree, maar ons kon nie sit en kyk hoe Murdoch gekskeer nie.”
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.